Sacred Texts  Bible  World Bible  Index  Previous  Next 

Afrikaans Bible: 1 Peter

1:1 Petrus, 'n apostel van Jesus Christus, aan die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië,

1:2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,

1:4 sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons

1:5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.

1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou--as dit nodig is--'n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge,

1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap,

1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

1:10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,

1:11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.

1:12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is--dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

1:13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.

1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,

1:16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

1:17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;

1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

1:19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

1:20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

1:21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

1:22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart;

1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,

1:25 maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.

2:1 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,

2:3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.

2:4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;

2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

2:6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.

2:7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n Steen des aanstoots en 'n rots van struikeling--

2:8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.

2:9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

2:10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;

2:12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

2:13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here--of dit die koning is as opperheer,

2:14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.

2:15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring,

2:16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.

2:17 Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.

2:18 Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.

2:19 Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.

2:20 Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly--dit is genade by God.

2:21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;

2:22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;

2:23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;

2:24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.

2:25 Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.

3:1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word

3:2 as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.

3:3 Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,

3:4 maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.

3:5 Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,

3:6 soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is--sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.

3:8 En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.

3:9 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.

3:10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.

3:11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag.

3:12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.

3:13 En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?

3:14 Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.

3:15 Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;

3:16 met behoud van 'n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.

3:17 Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.

3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring--Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;

3:19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,

3:20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;

3:21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete--deur die opstanding van Jesus Christus

3:22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

4:1 Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde,

4:2 om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.

4:3 Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.

4:4 Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster.

4:5 Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel.

4:6 Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.

4:7 En die einde van alle dinge is naby; wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.

4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal 'n menigte sondes bedek.

4:9 Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.

4:10 Namate elkeen 'n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.

4:11 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.

4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;

4:13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.

4:14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

4:15 Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van 'n ander bemoei nie.

4:16 Maar wanneer iemand as 'n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.

4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

4:18 En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?

4:19 So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.

5:1 Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat 'n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook 'n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word:

5:2 Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid;

5:3 ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.

5:4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.

5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

5:10 En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!

5:11 Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

5:12 Deur Silvánus, die getroue broeder, soos ek meen, het ek kortliks aan julle geskrywe om julle te vermaan en om te betuig dat dit die ware genade van God is waarin julle staan.

5:13 Die mede-uitverkorene in Babilon en Markus, my seun, groet julle.

5:14 Groet mekaar met 'n kus van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus Jesus is! Amen.


Next: 2 Peter